
VERRIGTINGE VAN DIE WES-KAAPSE PROVINSIALE PARLEMENT


Die Huis kom om 14:19 byeen.

Die Speaker neem die Stoel in en lees die Gebed.

AANKONDIGINGS, TERTAFELLEGGINGS EN KOMITEEVERSLAE - kyk bl 1662.

INTERPELLASIES, VRAE EN ANTWOORDE - kyk bl 299.

AANVALLE DEUR ANC OP
SUID-AFRIKAANSE REGBANK

(Voorstel)

Die LEIER VAN DIE HUIS: Mnr die Speaker, ek stel sonder kennisgewing voor:

Dat die Huis met ontsteltenis kennis neem van die georkestreerde toename in aanvalle op die onafhanklikheid en integriteit van die Suid-Afrikaanse Regbank deur die ANC, en verder die sterkste moontlike afkeur uitspreek teenoor lede van die Huis wat in die openbaar hieraan meedoen, naamlik die Hoofsweep van die ANC met sy verdagmaking van die voormalige Regter-president E L King op 18 April 2000 in die Raadsaal, en die ANC-sweep mnr Fransman, oor die uitspraak in die Boesak-saak die afgelope naweek by die gevangenis in Malmesbury.

Die SPEAKER: Orde! Is daar enige beswaar daarteen dat die voorstel sonder kennisgewing voorgestel word? [Besware.] Daar is besware daarteen dat die voorstel sonder kennisgewing voorgestel word, en daarom sal dit op die Ordelys geplaas word vir moontlike bespreking by 'n later geleentheid.

GEWELD IN PROVINSIE

(Voorstel)

*Mnr D SILKE: Mnr die Speaker, ek stel sonder kennisgewing voor:

Dat die Huis sy kommer uitspreek oor die toename in geweld in die provinsie, en veral die toenemende bende-verwante geweld op die Kaapse Vlakte, en verder 'n beroep op beide die provinsiale en die nasionale owerhede sowel as gemeenskapsleiers doen om dringend die huidige plaag van geweld aan te spreek en spesifiek bende-verwante bedrywighede binne die gevangenisse in die provinsie te ondersoek.

Goedgekeur.

VERTRAGING IN UITBETALING VAN PENSIOEN EN TOELAES

(Voorstel)

*Mnr D SILKE: Mnr die Speaker, ek stel sonder kennisgewing voor:

Dat die Huis sy kommer uitspreek oor die ontstellende vertragings in die pensioen- en toelae-uitbetalings wat oor die afgelope maand in die Wes-Kaap ondervind is, en verder sy simpatie uitspreek teenoor die bejaardes en behoeftiges wat ernstig verontrief is in die uitbetalingsproses, en 'n beroep doen op alle rolspelers om te verseker dat ons inwoners nooit weer sulke vernederende vertragings sal beleef nie.

*Die SPEAKER: Orde! Die agb lid mnr Silke het sy voorstel sonder kennisgewing voorgestel. As daar dus geen beswaar daarteen is nie, kan dit nou hanteer word. Die situasie is egter dieselfde as di van die vorige voorstel wat deur die agb lid mnr Silke voorgestel is. Ons het 'n debat oor daardie saak in die Huis gehad, en daar is 'n voorstel oor hierdie saak op die Ordelys. Dit is moeilik vir die Stoel om te bepaal of die inhoud presies dieselfde is.

*Mnr P J MARAIS: Mnr die Speaker, op 'n punt van orde: die staande komitee het vanoggend hierdie onderwerp bespreek. Die agb lid mnr Silke is 'n lid van daardie komitee. Hy weet presies watter vordering gemaak is. Ek dink nie dit is relevant om nou daardie voorstel hier voor te stel nie.

*Die SPEAKER: Orde! Ek kan hom nie om daardie rede buite orde beslis nie. Deur 'n komiteevergadering vanoggend by te gewoon het waar lede ingelig is, verhinder nie dat 'n lid vanmiddag 'n voorstel in die Huis voorstel nie. Laat my van die Huis hoor. Is daar enige beswaar dat die voorstel sonder kennisgewing deur die agb lid voorgestel word? [Besware.] Daar is besware. Die Stoel sal dus tyd h om dit ingevolge die Rels van die Huis te bestudeer en daaroor te beslis.

GELUKWENSE AAN SPRINGBOK-RUGBYSPAN

(Voorstel)

Mnr R J KING: Mnr die Speaker, ek stel sonder kennisgewing voor:

Dat die Huis die lede van die Springbok-rugbyspan wat verlede Saterdag aangewys is, gelukwens, en die span sterkte en voorspoed toewens en die hoop uitspreek dat hulle sukses sal behaal en met glorie uit die stryd sal tree.

Goedgekeur.

Die SPEAKER: Orde! Agb lede moet hul voorstelle sonder kennisgewing en voorstelle waarvan hulle kennis gee by die Tafel inhandig.

Die Huis verdaag om 15:32 tot Dinsdag, 20 Junie 2000.


AANKONDIGINGS, TERTAFELLEGGINGS EN KOMITEEVERSLAE

TERTAFELLEGGING:

1. Die Premier

Jaarverslag van die Wes-Kaapse Provinsiale Tenderraad (1998/99)


1662	DINSDAG, 23 MEI 2000



	DINSDAG, 23 MEI 2000	1663



	DINSDAG, 23 MEI 2000	1661


